Tuesday, July 14, 2015

Rogmeelpasta - sommer net van probeer

Dit lyk altyd vir my so lekker. Die blink masjientjie wat jy draai en stadig kom die perfekte blad deeg uit en stadig sny die masjientjie die netjiese repe wat plons in die water wat presies reg kook. Tuisgemaakte pasta.

Kan nie onthou of dit 'n Jamie Oliver program of 'n fliek of 'n boek was wat dit begin het nie, maar iewers het ek dit in my kop gekry om uit te vind hoe mens dit kan doen sonder 'n masjien. 'n Outydse prentjie met 'n hout kombuistafel met krake vol meel teen 'n voorskoot wat wapper met 'n klipmuur in die agtergrond.

Die tantes met die groot koekrollers wat die deeg so laat uitwaai uit die kring meel en eiers uit en hom rol en rol totdat die paste in sulke netjiese slierte oral van stokke af hang. Dis wat ek wou doen.

Sit toe met die sak rogmeel, en begin soek op die internet. Tussen 'n paar saaits deur figure ek toe uit dat hoeveelheid nie so erg saak maak nie. Of ander bestanddele nie for that matter. 'n Hen-resep as ek al ooit een gesien het. Maak 'n hoop meel, maak 'n gat soos 'n dammetjie, breek 'n paar eiers daarin (begin met twee en kyk maar hoe dit gaan) en meng deurmekaar tot dit voel soos stywe deeg. Sout? Nee, wat, bietjie in die water waarin jy die pasta gaan kook netnou en Bob's jou antie.
Maar as jy te min eiers het of te veel meel, gooi bietjie water by. 'n Bietjie water is in elk geval 'n goeie idee, maak die spul minder taai.

Ekt by die SPCA se winkel 'n koekroller gekoop en laat waai. 'n Groot plank help, en die het ek nou, maar aan die begin het ek maar net sulke klein bietjies op 'n slag op die broodplank gerol. (Het toe nog in daai ander flat gebly met die teëls op die counter, wat nie sou gewerk het nie, maar deesdae het ek mos nou die tafel.)

Ennieway, as jy nou so soortvan 'n deeg het, sorg dat jou hande, die plank en die koekroller vol meel bly. Daai rogmeel klou soos nat moerasklei. Maak bolletjies met die deeg, rol die bolletjie uit tot hy plat is. Plat, hoor, plat. En dan sny jy jou stroke met 'n stomp mes. Stomp, hoor, stomp. Hoe breed of hoe smal hang af hoe fluks jy is en hoe gou jy gatvol raak van die groot bol deeg wat jy gemaak het in jou oorywerigheid. Jy kan die deeg  in die yskas hou as jy môre wil verder rol.

Nou toe kom die deel met die strokies pasta wat opgehang word in sulke pragtige lang repe. Die einde van die lang storie - waar ek plegtig 'n ou besemstok gaan afwas en op blote genade laat balanseer het tussen die rak en die vensterbank en die repies wat skaars lank genoeg was om oor die hout by te kom gehang het - was nie 'n gelukkige een nie. Vind toe sommer ook gou uit jy kan hulle maar sommer net in die kokende water laat in val. Bob's jou antie.

So as die res van hulle aan mekaar vassit omdat jy halfpad met die ophangery die stok weer begin gebruik het om 'n plant in die tuin mee regop te hou: haal hulle maar net weer van mekaar af, dit sal orraait wees.

Hoe lank kook jy dit? Ek gaan maar so op 15-20 minute en dan haal ek 'n stukkie uit en sny hom deur. Goeie teken as hulle op die water begin dryf. As die stukkie nie meer lyk soos meel in die middel nie, is hy reg. Anders moet jy maar hard op hom blaas tot hy koud is en dan hap.

Sommer net so met kaas op, is hy klaar baie lekker. Maar sal julle nog vertel hoe maak 'n mens pesto of iets op op die pasta te gooi.
Dis sekerlik vinniger met die masjien. En lekkerder met behoorlike kennis van pastakookkuns. En meer verfynd met 'n regte tafel en so aan. Maar jy kan steeds 'n impressive pasta aanmekaar slaan, sommer net van probeer.