Wednesday, November 4, 2015

Tjop-op

Ja, ek weet nie wat anders om dit te noem nie, miskien dink ek een van die dae aan 'n beter naam. Maar dis nou een van daardie - maaind you ek het baie van hulle - vir daardie aande wat jy alleen is en lus het vir 'n lekker groot bord kos en net-net een skoon pot het. Maar sorg dat dit een is met 'n deksel.

Jy sit die plaat op sy warmste aan met botter in die pot (as dit 'n pot is met 'n baie dun boom dan die helfte van die warmste, Bob's jou antie). Terwyl die botter smelt, haal jy daai varktjop uit waarvoor jy al heeldag lus is (die resep werk ook met hoender, vark fillet, bangers -vir 'n banger-op... en ek is seker mens kan nog goeters traai, so loop traai dit). Tip die pot so bietjie dat die botter die hele boom vol is en dan sit jy daai tjop in. Voor hy vassit draai hom om en voor hy weer vassit draai hom weer om.

Nou begin jy goeters bygooi. Tensy jy al in die botter begin kruie of peper bygooi het, dit werk ook goed. Gooi 'n skoot asyn of suurlemoensap of iets suur op die tjop. Jy kan nou al die tarragon of flavour seeds (ja ek sal nog 'n ander stuk vertel oor flavour seeds) of basil of wat ook al jy het bietjie bygooi. Maar nou moet jy die hitte afdraai en spring met die ander goed wat jy wil bygooi, anders word jou tjop taai.

So wat het jy? Enige groente werk goed. As jy iets soos aartappels het wat lank vat, sny in dun wielietjies (want ek kan die woord "skyfies" nie vat nie). So nou gooi jy die aartappels, 'n heel uitjie en 'n handvol groenbone of 'n handvol sampioene of murgpampoene of so by en sit die deksel op. Miskien gooi jy so nou en dan 'n bietjie kookwater by as die spul lyk of dit wil brand. Of nog van die suur goed en speserye. Sout gooi jy heel aan die einde by as dit nodig is, anders sukkel jy met daai aartappels.

En dan gaan sit jy met jou glas wyn en kyk tiewie tot tot die hardste ding van die goed bo-op die vleis sag is en Bob's jou antie. Smaak soos 'n Sondag roast en jy het net een pot om te was.